Selfbeskikking: Genoeg is genoeg

Front Nasionaal SA / Front National SA
By watter groep wil jy wees as die skip aan die sink is – daar is drie groepe mense:   Party verlaat die skip en swem weg, party staan en skep water oorboord totdat die skip onder hulle voete verdwyn, en die derde groep begin die wrakstukke bymekaar maak en bou ‘n nuwe, kleiner, stewiger vaartuig daarmee.

 

No photo description available.

DIT KAN GEDOEN WORD
Front Nasionaal SASelfbeskikking is nie onmoontlik nie. Ons kan dit eis op grond van Artikel 235 van die Grondwet. Ons kan dit eis op grond van die VN resolusies wat berus op die Konvensie van Montevideo. Ons kan dit eis op grond van Zuma se uitsprake dat die Afrikaners “hulle eie Nkandla moet bou” en op grond van Mandela en Mbeki se erkenning van die bestaan van die Afrikaner/Boerevolk as volk. Ons kan ons beroep op Mandela se ondertekening van die VN Resolusies in 1995, waarbinne ons selfbeskikkingsreg verskans word. Ons kan dit alles doen, maar ons moet eers ‘n paar struikelblokke oorkom:1) Ons moet besef dat selfbeskikking ‘n politieke aksie is. Ons sal met die regering moet praat daaroor want die huidige regering word wêreldwyd erken as wettige gesag in Suid-Afrika. Selfs al is die kanse hoe gering dat die ANC selfbeskikking sal toestaan, sal ons eers moet bewys dat ons wel met hulle ‘n pad probeer stap het, anders gaan ons maar net ‘n Rebellegroepie iewers in die wildernis wees.

2) Daar moet ‘n mandaat wees. Die regering en die buitelandse gesagstrukture gaan nie ‘n halfminuut se aandag gee aan ‘n individu wat sê : “Ek kom praat oor selfbeskikking”. Ewe min kan ‘n kultuurorganisasie, landbouvereniging, kerk of vakverbond oor selfbeskikking onderhandel. Dis ‘n politieke party se werk. Die taak van die aktivis is om die volk te mobiliseer en te bemoedig en saam te bring…en dan die werk te oorhandig. Die werk wat Sunette Bridges en Steve Hofmeyr en Brendi Richards en Natasha Visagie en Don Deon en Ingrid Meerbeek De Jager en Johanna Stuijt van Dokkum en Ed Begley en honderde ander goeie vriende van FN doen is van onskatbare waarde, maar uiteindelik gaan selfbeskikking wentel om suiwer politiek.

3) Ons kan nie strewe na selfbeskikking en dit dan self kelder nie. En die twee grootste struikelblokke in die weg van selfbeskikking is die twee argumente

• Stem reg, bly weg. Met ander woorde, ek stem nie want ek erken nie die regering nie. Dit word ‘n wederkerige aksie, in daardie geval sal die regering jou ook nie erken nie en sal die buitewêreld jou nog minder erken en sit jy net mooi waar jy begin het – jy bereik niks daarmee nie, behalwe om belasting te betaal en verder belas te word op jou brandstof en jou rookgoedjies en wat nog alles deur die regering wat jy so hard probeer ignoreer. Wie lag dus laaste? Dis maklik om te argumenteer: My deelname impliseer dat ek die huidige stelsel aanvaar – deur juis te stem vir die party wat die huidige stelsel ten sterkste opponeer, BEWYS jy jou opposisie, want tot op hede het niemand hulle juis gesteur aan die ou wat op stemdag by die huis bly sit nie.

• Die tweede argument is: “Ek stem DA, want dis darem die sterkste opposisie.” Dit is nie. ‘n Party wat maar 24% steun het en boonop die regering steun in sy kwaad is geen opposisie nie. Die mense wat nog steeds vasklou aan die DA doen dit uit suiwere onkunde omdat die begrip nog nie by hulle gedaag het dat Suid-Afrika se rol uitgespeel is nie. Geen party, nie FN of die DA of wie ookal kan ooit weer ‘n suksesvolle staat van Suid-Afrika maak nie. Ons sal Suid-Afrika moet herontwerp. Ter illustrasie: As die skip aan die sink is kry jy drie groepe mense: Party verlaat die skip en swem weg, party staan en skep water oorboord totdat die skip onder hulle voete verdwyn, en die derde groep begin die wrakstukke bymekaar maak en bou ‘n nuwe, kleiner, stewiger vaartuig daarmee. By watter groep wil jy dan wees?

Ten slotte sal ons realisties moet wees. Ons het nie ‘n historiese of demografiese aanspraak op die hele Suid-Afrikaanse geografiese gebied nie. Die areas wat uiteindelik ‘n selfbeskikkingsgebied sal word, sal berus op historiese aanspraak. Noodwendig sal almal nie binne hierdie gebied woon nie en logies gesproke sal almal nie net gewoon kan oppak en trek nie. Ons sal derhalwe ook nie die grense kan sluit en leef asof daar nie ander state en ander volke rondom ons is nie.

Ons sal derhalwe dan ook moet begin praat van “selfbeskikkingsgebiede” eerder as van “volkstaat” of “Boerestaat”, omdat hierdie terme misleidend is.

Volkstaat dra die konnotasie van Orania. Ons admireer en bewonder wat in Orania vermag is, maar Orania is gewoon net ‘n dorp in Suid-Afrika wat in private besit is. Die inwoners is nog steeds burgers van Suid-Afrika, betaal nog steeds belasting aan die owerheid. In die Selfbeskikkingsgebied wil ons volkome soewerein wees hiervan. Selfbeskikkingsgebied is nie ‘n plek waar ons net tussen volksgenote wil woon nie, dis ‘n plek waar ons oor onsself wil regeer. Daar is ‘n enorme verskil tussen die twee gedagtegange.

Boerestaat weer impliseer ‘n uitsluiting van ‘n groep mense binne volksverband wat hulleself nie “Boere” noem nie. By Boerestaat word dikwels ook geïmpliseer dat die herwinning van die twee voormalige Republieke van die OVS en die ZAR ‘n moontlikheid is. Dit is hoogs onwaarskynlik. Die Nasionale Konvensie van 1909 is juis gehou op aandrang van die verkose verteenwoordigers van die Transvaal en die Vrystaat (Jan Smuts en MT Steyn) wat vrywillig hulle reg tot selfregering, soos vervat in die Verdrag van Vereeniging, afgestaan het ter wille van Unifikasie. Daardie moontlikheid is derhalwe staatsregtelik uitgesluit. Jy kan nie vrywillig jou plaas verkoop en dan oor tien jaar dit gaan terugvra omdat jy dink jy het ‘n fout gemaak nie. Ons vermy derhalwe die “Boerestaat” konsep totaal omdat dit nie haalbaar is volgens enige internasionale konvensie nie.

Uiteindelik kan selfbeskikking nie deur ‘n politikus of ‘n aktivis of ‘n facebookblad verkry word nie. Die lot van ‘n volk lê by die volk self. Solank as wat ons derhalwe in ons gemaksones sit, sal selfbeskikking nie in ons leeftyd gebeur nie.

8 Mei 2019 is nog ‘n geleentheid wat ons nie verby kan laat gaan nie.

 

 

 

Advertisements

3 gedagtes oor “Selfbeskikking: Genoeg is genoeg”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s