Selfbeskikking FN

 

Goeie artikel.

SELFBESKIKKING, RASSEKWESSIES EN OORLOG – ‘N PARALLEL TUSSEN AMERIKA EN DIE EIETYDSE AFRIKANERBEGEERTE
Front Nasionaal SA

Image may contain: text

Op 16 Oktober elke jaar herdenk die Amerikaners in die suidelike state ‘n insident wat die kwessie van rasseverhoudinge en selfbeskikking na vore gebring het en wat uiteindelik gelei het tot ‘n oorlog waarin 620 000 soldate en meer as 50 000 burgerlikes dood is, sowat 2% van die totale bevolking. Op daardie dag in 1859 val die radikalis, John Brown, en sy bende die militêre pakstoor by Harper’s Ferry in Virginia aan om wapens te buit met die oog daarop om ‘n slawe-opstand aan te hits en die suidelike state oor te neem. Daarvoor is Brown tereg gestel en het die bekende liedjie: “Battle Hymn of the Republic” (John Brown’s body lies a mouldering in the grave…) deel van die Amerikaanse musiekerfenis geword. (Ons ken dit hedendaags as Die Oorwinningslied)

Maar wat was die situasie van die tyd en hoe vergelyk dit met waarmee ons in Suid-Afrika handel?

Amerika teen die 1850’s was ‘n eenheidstaat wat federaal regeer is uit Washington. Die Amerikaners het hulleself egter nie as een nasie beskou nie. Die inwoners van die suidelike state het nie veel ooghare gehad vir die “Yankees” van die Noorde nie. Die groot verskil het gehandel oor die kwessie van slawerny. Die suidelike state het nog die stelsel van slawerny gehandhaaf, omdat hulle grootliks ‘n landbou-gebied was wat veral tabak en katoen verbou het en derhalwe ‘n groot behoefte aan arbeid gehad het. Daarteenoor het die Noordelike state weer ‘n ekonomie van industrialisasie en handel gehad. Die arbeidsoplossing vir die Noorde het gelê in die invoer van arbeid uit Wallis, Italië, Ierland en Skandinawië – goedkoop, ongeskoolde arbeid vir wie die lewensomstandighede min beter was as vir die slawe van die suide. Met die slagkreet van “Abolish slavery”, het die “abolitionists” van die Noorde toenemend druk op die federale regering in Washington geplaas om die hele lewenswyse van die suide te verander, wat weer ‘n teenreaksie van wantroue teen die Noorde tot gevolg gehad het.

Hierin lê ‘n duidelike parallel met die Afrikaner se situasie in die hedendaagse eenheidstaat. Terwyl daar toenemend druk van die liberale denkrigting is om ons totale volksaard te verander en op te gaan in ‘n multikulturele staat, is ons steeds ‘n tradisievaste volk wat toenemend wantrouig raak teenoor hierdie ongevraagde inmenging in ons eie oortuiging en volksaard.

Een van die groot probleme van die tyd was die stereotipering van die suidelike Amerikaners. Onder invloed van die gedagtes van filantropie en humanisme uit Brittanje, het die liberaal denkendes van die noorde die volksgenote in die suide tot rasbehepte, onderdrukkende monsters gedemoniseer. Inderdaad was die verre meerderheid van suidelikes nie eens slawe-eienaars nie. Hulle het self besef dat slawerny ‘n onmenslike en uitgediende konsep was en wou net in vrede gelaat word. Die skandelike brandmerk wat hulle egter moes dra, het toenemend ‘n versetreaksie tot gevolg gehad.

Daarby was dit die radikale elemente aan beide kante wat die temperatuur opgejaag het. In die noorde was dit die fanatiese “abolitionists” soos Gerritt Smith en John Brown wat luidkeels verkondig het dat die swart slawe bewapen moet word en hulle base keel moes afsny. In die suide was dit weer Webster en Marshall wat aangehits het dat die state moes wegbreek uit die Unie, eensydig as dit moes, met geweld as dit moes.

In hierdie storm-en-drang jare was dit die meer gematigdes wat koorsagtig gesoek het na oplossings. Die Republikein, Abraham Lincoln, was bereid om toegewings te maak soos ‘n bepaling dat slawerny behou mag word, maar nie uitgebrei word na nuwe state wat by die Unie ingelyf word nie. Jefferson Davis van die suide het weer geargumenteer dat die gemoedere mag kalmeer as groter vryheid oor selfbeskerming toegestaan word en as daar toegelaat word dat bestaande slawe-eienaars hulle slawe op nuwe plantasies in die nuwe state gebruik mag word.

Ook hierin is bepaalde parallelle met ons tyd. Terwyl die meeste Afrikaners net eenvoudig in vrede gelaat wil word, met die reg om ons taal en erfenis te beskerm en te verdedig, is dit die radikale elemente aan die liberale kant wat die blanke in Suid-Afrika deur die bank brandmerk en demoniseer tot rassis, verdrukker, setlaar, gronddief. En dis nie net uit swart geledere waar ons daarmee te make het nie. Inderdaad kom dit van die liberale blanke meningsvormers. Dit het tot gevolg dat selfs die gematigde Afrikaner toenemend gemarginaliseerd voel en radikale menings begin uitspreek en aanhang.

In hierdie waansin verdwyn die stem van rede van beide kante wat argumenteer dat die oplossing vir Afrikanervoortbestaan op ‘n sinvolle en wetlike wyse verkry kan word. Net soos Davis en Lincoln en die groot denker, John Calhoun, moet ons in ons tyd ook keer dat die voortvarendes en radikales nie ons mense se vrese en kommer tot histerie aanhits en daardeur ‘n breekspul veroorsaak nie.

Die uitdaging van die state van “The Deep South” was dat hulle in oortuiging eensgesind was: hulle wou nie voorgesê word deur Washington nie. Maar hulle kon eenvoudig nie ‘n sterk genoeg eenheidsgevoel beding nie. Die mense van South Carolina se eerste simpatie was by South Carolina, vir die mense van Virginia en Alabama en Florida was hulle state se belang eerste belang. En daarom het daar nie ‘n sterk genoeg volksgevoel ontwikkel nie. Ook hier het die radikales kwaaddoenwerk gedoen deur hulle volgelinge se agterdog teenoor die Noorde uit te brei na agterdog teenoor mekaar. Charleston het Richmond gewantrou en Richmond het Mobile gewantrou en Mobile het St Louis gewantrou. In stede daarvan om te fokus op dit wat die potensiaal gehad het om die suidelike state tot ‘n nasie te bind, is daar gefokus op dit wat hulle uit mekaar gehou het.

En ook hierin is ‘n enorme les vir ons te leer. Terwyl ons die begeerte deel om vry te wees van die multikulturele Nuwe Suid-Afrika, fokus ons nie werklik op wat ons as blanke nasie bymekaar hou nie. Die debatte oor Boer vs Afrikaner, Afrikaans vs Engels, Kaap vs Transvaal verswak ons inderdaad.

Onder hierdie omstandighede is ‘n swartskaap gesoek en dit is gevind in die persoon van Abraham Lincoln. Alles wat verkeerd was, was sy skuld. Min mense het in gedagte gehou dat die simpatiseerders van die Unie van State in die suide almal gehelp het om Lincoln in sy posisie te kry.

En dit laat ‘n mens onwillekeurig dink aan die herhalende verkwaliking van FW de Klerk vir al die probleme van die dag. Wat ons geriefliksheidsonthalwe vergeet is dat dit die kiesers van 1992 was wat nie hulle oë wou oopmaak vir die afgrond waarop die Nasionale party aan die afstuur was nie, en wat De Klerk ‘n mandaat gegee het in ‘n referendum om te doen wat hy gedoen het. As Abe Lincoln en FW de Klerk in die beskuldigdebank staan, staan duisende kiesers saam met hulle daar.

Die vonk in die kruitvat was Lincoln se verkiesing as president in 1860 met ‘n steun van 63%. South Carolina besluit summier om weg te breek uit die Unie en selfregerend te raak. Lincoln reken dat waarskynlik net Virginia sal volg. Toe South Carolina derhalwe eis dat alle Unietroepe summier onttrek word uit die staat, weier Lincoln dit omdat hy glo dat hy nog kan onderhandel. Maar hy misgis hom, want binne enkele dae bestaan die sesessieblok uit 7 state: South Carolina, Alabama, Florida, Georgia, Louisiana, Mississippi en Texas wat dadelik ‘n Konfederale regering saamstel en Jefferson Davis as president kies met Richmond, Virginia as hoofstad.

En daaruit leer ons dat die mag van die selfbeskikkingsbegeerte nooit onderskat mag word nie. Niemand weet ooit presies hoe sterk en hoeveel steun daar vir die selfbeskikkingsgedagte is, voordat dit nie realiseer nie. Toe die suiderlinge eers sien dat dit ‘n werklikheid is, het hulle twyfel daaroor verdamp en was “sesessie” ‘n gegewe.

Lincoln se weiering om sy troepe te onttrek aan Fort Sumter in die hawe van Charleston, lei daartoe dat die Konfederasie van Suidelike State van Amerika op 12 April 1861 Fort Sumter aanval – en daarmee was die oorlog onvermydelik. Die Konfederasie het minder troepe gehad as die Unie, maar met beter wapens. Wat verder in hulle guns getel het was die feit dat hulle die “beste soldaat wat Amerika ooit gehad het,” generaal Robert E Lee, aan hulle kant het. Daarteenoor is Jefferson Davis ‘n swak president, wantrouig en geneig daartoe om alles self te probeer bestuur. Aan die Unie se kant was daar geen noemenswaardige militêre leierskap nie – Ulysses S Grant was omtrent die beste, maar hy het ‘n drankprobleem. Gelukkig vir hulle is Lincoln ‘n briljante president. Historici is dit eens dat Lincoln op daardie tydstip reeds aanvaar het dat hy die Unie nie meer sou kon red nie, hy was bereid om te kyk na opsies om die Suide hulle vryheid te gee, sonder bloedverlies. Jefferson Davis het nie daardie insig gehad nie, uit sy eensydige hoek het hy oral vyande gesien. En aangesien Frankryk reeds die bestaan van die Konfederasie erken het, is hy vas daarvan oortuig dat Frankryk hom gaan help met wapens en troepe. Na die oorlogsverklaring sluit ook Virginia, Arkansas, Tennessee en North Carolina by die Konfederasie aan. Die sogenaamde “border states”, soos Kentucky, Missouri, Maryland en Arizona sluit ook mettertyd aan.

Die Afrikaner het dikwels dieselfde probleem as Jefferson Davis – die geloof dat daar geen begrip vir ons situasie is nie, ons is so ingestel daarop om vyande oral te sien, dat ons dikwels potensiële vriende vervreem. Daarby die ongegronde vertroue daarin dat iemand anders ons probleem gaan kom help oplos. En ten slotte ook die radikale en soms fanatiese geloof daarin dat oorlog en geweld die eerste opsie is, in stede van die laaste. Want Jefferson Davis was oortuig daarvan dat die oorlog binne 2 maande verby sou wees.

Aanvanklik het dit so gelyk. Die Konfederasie wen die een slag na die ander en kort voor lank staan Robert E Lee voor die poorte van Washington. Vir 18 maande het hulle die Unie aan die keel beet. En dit is op daardie punt dat Lincoln die gety strategies in sy guns swaai. Hy betree die morele hoëgrond en verklaar dat hy steeds die verkose president van die Unie is, en die Unie sluit die Konfederasie in en daarom stel hy die slawe onvoorwaardelik vry. Daarmee maak hy die oorlog ‘n humanistiese aangeleentheid. Die vrystelling van die slawe veroorsaak onmiddellik twee dinge: Die suidelike arbeidsmag en gepaardgaande voedselproduksie stort ineen, maar dit veroorsaak ook ‘n humanitêre krisis van vrygestelde en hawelose slawe wat op Charleston en Richmond toesak en in vlugtelingkampe saamdrom waar hulle gevoed moet word. Hiervoor het die Konfederasie geen voorsiening gemaak nie.

Teen ons eie agtergrond sien ons hoedat die liberale gedagtes van multikulturalisme ‘n kunsmatige morele hoëgrond skep, maar nie noodwendig ‘n beter lewe waarborg vir die mense in wie se guns hulle argumenteer nie. Vele van die swartmense in ons land kry vandag swaarder as ooit vantevore. Maar dit waarsku ons bowenal dat ons veel wyer moet dink as ons eie selfbeskikkingsbegeerte. Ons kan nie vergeet van die ander mense in die gebiede waarin ons self wil leef nie. Ons sal ons plan so moet opstel dat daar ook vir hulle ‘n uitweg om oorlewing is. En daarin lê die WARE morele hoëgrond, die kenmerk van ‘n beskaafde, Christelike volk. In Davis se woorde: “This war might have killed our existence as a nation, but God grant that it does not kill our compassion and humanity.”

Die oorlog sleep nog byna drie jaar aan voordat ‘n vernietigde Konfederasie ineen stort en op 9 April 1865 teken generaal Robert E Lee die oorgawe in die hofgebou van Appomatox voor generaal Ulysses S Grant. As Davis nie so haastig was om die Konfederasie te skep nie, as hy kans gegee het totdat ‘n sterk nasionale gevoel ontstaan het, as hy nog bereid was om een laaste keer die vreedsame uitweg te probeer, kon dit veel anders gebeur het.

152 jaar later is daar opnuut ‘n beweging om die ou Konfederasie te herstel. In Amerika is die eietydse liberaliste besig om die geskiedenis van die Konfederasie te probeer vernietig deur standbeelde van Davis en Lee te verwyder, die vertoon van die Konfederale vlag te verbied en herdenkings van die oorlog te belet. En dit lei opnuut tot dieselfde gevoelens wat aanvanklik die oorlog veroorsaak het en die selfbeskikkingsproses gekelder het.

Die Amerikaners leer nie uit hulle verlede nie, want hulle ken nie hulle geskiedenis nie.

Die Afrikaner ook nie.

Uiteindelik bly daar net die een credo oor van dit alles, wat eweseer vir ons die riglyn van bestaan vir ‘n beskaafde Westerse nasie behoort te wees. Abraham Lincoln se woorde na afloop van die oorlog, wat vir ewig in die geskiedenis opgeteken sal staan:

With malice toward none, with charity for all, with firmness in the right as God gives us to see the right, let us strive on to finish the work we are in, to bind up the nation’s wounds, to care for him who shall have borne the battle and for his widow and his orphan, to do all which may achieve and cherish a just and lasting peace among ourselves and with all nations.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s