Gideon Scheepers

‘n Besielende boodskap uit die geskiedenis en verhaal.

GIDEON SCHEEPERS

Image may contain: outdoor and nature

https://bit.ly/2NlpWD1

GIF, VERRAAD EN DIE WOEDE WAT NOOIT WOU BEDAAR
geskryf deur Front Nasionaal SA

Onder die aanvoerders van die Tweede Vryheidsoorlog staan die naam van Gideon Scheepers uit om twee redes: Hy was waarskynlik die mees gevreesde guerilla-aanvoerder van die oorlog en die omstandighede rondom sy dood het ‘n vloedgolf van weersin oor verraad en lamsakkige agterbaksheid tot gevolg gehad, wat selfs na meer as ‘n eeu nog sluimer

Die gebeure wat afgespeel het in die Klein Karoo rondom daardie September en eerste weke van Oktober 1901 en wat uiteindelik aanleiding gegee het tot die teregstelling van die 23 jarige Boerekryger, is ‘n verhaal wat gestalte gee aan die uitdrukking: Die waarheid is soms vreemder as fiksie.

Gideon Scheepers is in 1878 gebore in die distrik van Middelburg, Kaap. Hy verhuis spoedig na die ou ZAR en ondergaan opleiding as heliograaf in die Staatsartillerie. In 1898, die jaar voor die uitbreek van die oorlog, verhuis hy na die Vrystaat. Dis belangrik om dit in gedagte te hou, want Scheepers was ‘n burger van beide die Republieke. Na sy gevangeneming is hy verhoor as Kapenaar en derhalwe ‘n Britse onderdaan en op grond daarvan is hy gefusileer. Juis dit was een van die redes vir die landwye gevoel van weersin in dié besluit van die Britse militêre owerhede. Scheepers is beskou as ‘n terroris, nie as ‘n soldaat nie.

Onder aanvoering van die Vrystaatse kommandant Kritzinger val hy in Desember 1900 die Kaapkolonie binne. Na 8 weke keer Kritzinger terug na Bloemfontein en Scheepers neem bevel oor. En spoedig word hy die Britse owerhede se grootste nagmerrie. Hy is besig om Kaapse Rebelle bymekaar te maak, Britse transporttreine vir troepe en wapentuig te saboteur, en die hele Kaapkolonie op hol te jaag. Hy ken die Karoo en die Klein Karoo soos die palm van sy hand en op geen manier kry hulle hom vasgepen nie.

Teen die helfte van September 1901 het hy 150 man onder die wapen en ruk hulle op deur die Klein Karoo om so veel as moontlik Britse troepebewgings noordwaarts te ontwrig. Teen die laatmiddag van 13 September saal die kommando af op die plaas Ockertskraal in die omgewing van Ladismith. Teen skemertyd gewaar die brandwag ‘n eensame ruiter nader kom met die grootpad van Ladismith af. Aanvanklik herken hulle die man nie, maar toe hy nader kom herken Kareltjie Lehmkuhl, Scheepers se agterryertjie, hom. Dis Danie Hugo, die jonger broer van die Vrystaatse regter, Henry Hugo. Daar is 11 Hugo broers waarvan 7 op kommando, 3 van hulle saam met Scheepers.

Danie Hugo vertel ‘n verhaal van hoedat hy gevange geneem is en op ‘n trein gelaai is na Groenpunt. Volgens hom het hy van die trein af ontsnap, ‘n polisieman oorval en die perd buitgemaak en toe, met inligting van ‘n beeswagter, koers gekies om by Scheepers en sy broers aan te sluit.

‘n Paar manne in die kommando vertrou die vrede nie. Maar hulle het baie respek vir regter Hugo en Danie is ‘n innemende man met ‘n vriendelike geaardheid wat spoedig deel van die kommandolewe vorm. Net Kareltjie Lehmkuhl vertrou hom g’n snars nie. Hoe is dit dan moontlik dat ‘n man lank in die veld is, gevang word, aangehou word, van ‘n trein ontsnap, myle te voet gaan, dan ‘n perd steel en wanneer hy by die kommando aankom is sy klere skoon, amper deftig, en hy het selfs ‘n paar kalfsleerhandskoene aan? Scheepers steur hom nie aan die jong man se besware nie.

Danie Hugo bied aan om die kok te help met die voorbereiding van maaltye en dié ondankbare taak voer hy so vrolik uit dat niemand onraad vermoed nie.

Die kommando versit van Ockertskraal oor Calitzdorp na Oudtshoorn se omgewing en oor Dysselsdorp verder totdat hulle op 21 Oktober afsaal op ‘n verlate plaas naby die Kamanassie. Die Kamanassie loop sterk en terwyl die kommando afsaal in die lusernlande, steek Scheepers en ‘n handjievol uitgesoekte manne die rivier oor en neem hulle intrek in die verlate plaashuis.

Teen skemermiddag vergader Scheepers met sy offisiere in die hoofslaapkamer van die plaashuis. Luitenant Lebo du Plessis en Kareltjie Lehmkuhl is ook teenwoordig. Danie Hugo kom die vertrek binne, glimlaggend soos altyd, met ‘n skinkbord waarop twee glase wyn is.

“Ek kon darem vir Kommandant ‘n bietjie wyn in die hande kry!” sê hy tergend. Scheepers neem die een glas en bied die ander vir Du Plessis aan, wat dit van die hand wys. Kareltjie Lehmkuhl neem die tweede glas. Hugo wag totdat hulle klaar gedrink het voordat hy die twee glase terugdra kombuis toe, dit goed uitwas, en dan op sy perd klim en wegry sodat niemand in die kommando hom weer sien nie.

Skaars ‘n halfuur later sak Lehmkuhl in mekaar. Scheepers gee opdrag dat Hugo na hom geroep moet word om Lehmkuhl te kom help, en nou eers word sy afwesigheid opgemerk. ‘n Uur daarna is Scheepers self dodelik siek. Asof dit nie genoeg is nie, verklap geweerskote uit die koers van die lusernland dat ‘n Britse patrollie die kommando gewaar het. Daar is nou geen twyfel meer dat verraad gepleeg is nie. Die Britse aanslag word ternouernood afgeweer en met Scheepers en Lehmkuhl op ‘n perdekar word daar die nag ingevlug.

Anderkant Oudtshoorn verdeel die kommando in twee. Scheepers voel sodanig beter dat hy sy halwe kommando lei op die rug van sy blouskimmel merrie, Barnie. Eers op die 23e September herenig die kommando ‘n paar honderd tree bokant die ingang na die Kangogrotte. Vir die res van September bly die kommando aktief in die Klein Karoo en trek al met die suidelike voetheuwels van die Swartberge langs.

Maar Scheepers se gesondheid gaan by die dag agteruit. Hy vomeer gedurig en kla van geweldige brandpyne in sy ingewande. Teen die einde van September kan hy nie meer op die perd kom nie en word hy vervoer op ‘n perdekarretjie. Lehmkuhl is beter, maar ver van gesond af.

Op die 6e Oktober stuur Du Plessis ‘n ruiter onder ‘n wit vlag Ladismith toe om ‘n dokter te laat kom. Die dokter het geen twyfel nie. “Jy is vergiftig met ‘n baie stadige gif. As jy verder in die veld bly sal jy sterf. Ek stel voor jy gee jouself oor en laat ek jou in die hospitaal opneem,” is sy advies aan Scheepers Vir Lehmkuhl sê die dokter dat die gif uit sy gestel gewerk het, maar dat hy lewenslank maagprobleme sal hê. In sy herinneringe, wat hy 36 jaar later laat opteken, getuig Lehmkuhl dat hy geen dag van sy lewe daarna sonder ingewandsprobleme was nie.

Scheepers oorweeg nie eens oorgawe nie. Op die 7e Oktober lei hy sy kommando deur ‘n poort in die Witteberge oor Leeukloofpoort na die noordekant van die Swartberge. Scheepers wil Calvinia se kontrei toe om eers te gaan aansterk.

Naby die hedendaagse Prins Albertweg kan hy nie verder nie. Selfs die roering van die perdekar onder hom veroorsaak te veel pyn en die kommandolede dra hom ent-ent in ‘n kombers. Daar gee hy opdrag dat hulle hom agterlaat en self verder gaan sonder hom. En dit is ook daar waar die Britse magte hom op 12 Oktober inhaal.

Ondertussen is die leier van die Oostelike kommando, kommandant Johannes Lötter en sy kommando, naby Pearston oorval. 60 man sneuwel en nog 60 word gevang en op Graaf Reinet aangehou. Op 16 Oktober word kommandant Lötter en 7 van sy manne naby Middelburg tereg gestel.

Scheepers is ‘n baie siek man wat vir maande onder bewaking verpleeg word, voordat hy sodanig herstel dat hy in Desember oorgeplaas kan word na die tronk op Graaff Reinet.

Sy verhoor word blitsig afgehandel. Hy word aangekla as ‘n Kaapse Rebel en skuldig bevind op 16 klagtes – 7 van moord, een poging tot moord, een klagte dat hy ‘n krygsgevangene in die vuurlinie geplaas het, 1 klag dat hy ‘n krygsgevangene mishandel het, 3 van aanranding, 2 van opsetlike saakbeskadiging en ‘n klag van brandstigting. Hy word summier ter dood veroordeel.

Op 18 Januarie 1902 word hy doodgeskiet net buite Graaff Reinet. Vier penkoppe uit Lötter se kommando, wat nog in die tronk sit, grawe die graf waarin Scheepers begrawe word. Dieselfde nag word sy lyk deur twee Britse soldate opgegrawe en weggeneem sodat niemand tot hierdie dag weet presies waar hy uiteindelik begrawe is nie.

Die Britte het die gevangeneming van Scheepers as so belangrik beskou dat hulle selfs foto’s geneem het van sy behandeling in die hospitaal, sy verhoor en sy teregstelling.

Vandag is daar geen twyfel oor dat Danie Hugo gestuur is om die kommando te infiltreer, Scheepers te vergiftig en seker te maak dat die kern van verset teen Britse kolonialisme in die Kaapkolonie vernietig word nie. As dit nie daarvoor was nie, is dit heel moontlik dat Scheepers en Lötter die Kaapse burgers teen die owerheid kon mobiliseer en saam met die Vrystaatse en Transvaalse burgers die juk van Britse onderdrukking afwerp.

Verraad het die geskiedenis anders laat verloop. En soos altyd met verraad, baar dit woede. ‘n Woede wat selfs vandag nog nie verby gegaan het nie.

Net buite Graaff Reinet op die pad na die Vallei van Verlatenheid staan die monument naby die plek waar Gideon Scheepers tereg gestel is. Daarop staan die woorde van DJ Opperman: “Hy leef in hierdie land, nou, vir ewig en altyd.”

No automatic alt text available.          Image may contain: 1 person, hat

 

Advertisements

Een gedagte oor “Gideon Scheepers”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s