ANDERKANT DIE AS VAN ONS BESKAWING
Front Nasionaal SA
Die brand by die Notre Dame in Parys gistermiddag was tot ‘n groot mate ‘n gebeurtenis wat die Westerse beskawing vir ‘n paar oomblikke tot stilstand geruk en tot besinning gedwing het. Die brand, wat in die solder van die 850jaar oue katedraal begin het, het onberekenbare skade aangerig en het veroorsaak dat eers die toring van die gebou en later die majestieuse koepel ineen gestort het. Die plate van die koepel het gerus op massiewe balke van eikehout wat rondom die jaar 1270 daar geplaas is. Beeldhouwerk, gebrandskilderde vensters, tapissirieë en kunswerke wat die ontwikkeling en prestasie van die Westerse beskawing uit die Gotiese periode versinnebeeld, is vir ewig daarmee heen.
Nou doen gerugte alreeds die rondte dat dit ‘n aanslag deur Islamitiese fundamentaliste is teen die simbole van die godsdiens, kultuur en beskawingspeil van die Westerling. Of dit wel die geval is, sal die tyd nog moet leer.
Wat wel seker is, is dat die Moslem immigrante in Parys geen traan stort oor hierdie verlies nie. ‘n Foto, wat wêreldwyd die rondte gedoen het, wys ‘n groep van hulle, wat duidelik ingenome en laggend oor die gebeure, naby die Notre Dame rondstaan.
Wat leer ons hieruit:
1) Daar is onversoenbare verskille wat multikulturalisme wêreldwyd laat misluk.
Die Westerse beskawing berus op beginsels soos verantwoordelikheidsin, waardering vir en beskerming van ons gemeensame erfenis. Die strewe na ontwikkeling en prestasie. Die respek vir die besitting van die ander mens. Wanneer ons dan, in die moderne tydgees, geforseer word tot konformering en gelykstelling met kulture en uitkyke wat nie hierdie waardes deel nie, beklemtoon dit die verskille eerder as die ooreenkomste en is die saad van mislukking reeds aan die ontkiem. Inderdaad staan dit in Suid-Afrika reeds vol in die blom
2) Dit wat mense natuurlik aan mekaar bind, kan nie met kunsmatige skeppinge vervang word nie
Die brand by die Notre Dame het ewe veel hartseer en skok by ‘n verskeidenheid van mense veroorsaak. Historici treur oor die onvervangbare vernietiging van historiese artefakte wat die verhaal van ‘n beskawing vertel. Argitekte treur oor ‘n uitstaande hoogtepunt van hulle professie wat nie meer daar is nie. Parysenaars treur oor die horison van hulle stad wat ‘n simbool van bekendheid verloor het. Christene treur oor ‘n simbool van hulle geloof wat vernietig is. En so kan ons aanhou om groepe te identifiseer – maar dit is deurgaans groepe wat een ding in gemeen het: HUlle is mense van Europese beskawingspeil met ‘n Westerse kultuur en herkoms. Die “Een Wêreldorde, Global Village” konsep van die post-modernisme kon nog nie daarin slaag om ‘n wêreld te skep waar ‘n verlies almal se verlies is en ‘n vreugde universeel gedeel word nie.
3) Laat ons waak daarteen om te wees wat ons veroordeel.
Geen waarde word bygevoeg deur weg te neem nie. Geen roem is daar tog ooit in vernietiging nie. Daarom lees ‘n mens met soveel weersin die kommenatre van mense wat jubel oor hierdie tragiese gebeure. “Vernietig al hierdie ‘Baaltemplels’, dis goed so!” skree die sekte-aanhangers. “Dis een van die plekke waar die vervolging van Protestante beplan is,” skryf ‘n ander, “laat hy verbrand word.” Eienaardig genoeg is dit dieselfde mense wat blou moord skree wanneer protesmakers in die land klinieke en skole afbrand.
Die vraag lê daarin: Watter verskil is daar in hierdie benaderings? Hoekom put enigiemand vreugde uit die vernietiging van enigiets? Waarheen het ons beskawingsvlak gedaal as ons hiervoor regverdiging soek? Word ons nie nou net soos die mense wat standbeelde wil vernietig omdat hulle kwaad is oor Munisipale Dienslewering nie? Dit maak mos nie sin nie.
Inderdaad, as hierdie argumente die riglyn is, moet ons konsekwent wees en sê: Steek Westminster Abdy aan die brand, want dis ‘n Engelse gebou en ons het ‘n appeltjie te skil met Engeland. En steek dan sommer die Kasteel de Goede Hoop ook aan die brand, want dis daar waar Milner en Kitchener die kampe van die Boereoorlog beplan het. Steek die Haggia Sofia in Istanbul aan die brand, want dis ‘n Christelike Kerk wat nou ‘n Moskee is. Vergeet van die menslike prestasie van die ongelooflike mosaikwerk en glaskuns daarbinne. En vernietig dan ook sommer die Tempel in Jerusalem, want dis ‘n aanstoot vir die Palestyne. Stoot plat die historiese Sentraalstasie in Amsterdam want die Jode van Europa dink met afsku daaraan dat hulle daarvandaan na die uitwissingskampe vervoer is. Verbrand die Stephansdom in Wene en die groot katedraal van Keulen. Stoot plat die St Pieterskerk en die Kerk van St Paul in Londen. Slaan plat die Taj Mahal want dis ‘n Hindu-verering van ‘n gestorwe mens. Vernietig Gaudi se Segrada Familia in Barcelona. Steek aan die brand die rolprentateljee in Hollywood wat Rock Hudson-rolprente gemaak het, want hy was homoseksueel. Slaan stukkend elke klavier waarop Liberace ooit gespeel het om dieselfde rede en vernietig die skilderye van Leonardo da Vinci ook daarom. Moet nooit weer ‘n komposisie van Herbert von Karajan speel nie, want hy was anti-Semities.
Maak stukkend die sigbare simbole van dit waarvan ons nie hou nie….en terwyl ons dit doen, vergeet daarvan dat dit presies dieselfde argumente is wat Andile Mngxitama en Julius Malema het oor die beelde van Paul kruger en Jan van Riebeeck.
Vernietig, verbrand en verwoes alles…
Is dit hoe ons wil wees? En as die antwoord daarop “Ja” is, moet nooit weer kla oor ‘n monument wat afgebreek word, ‘n biblioteek wat verbrand word of ‘n Universiteit wat uitmekaar gebreek word nie, want dan word ons juis dit wat ons die sterkste veroordeel.
Die vuur in die dak van die Notre Dame het gisteraand sy lig gewerp op die mislukking van multikulturalisme in Europa. Dit het gewys wat word van ‘n samelewing wat sy beskawingspeil abdikeer. En dit staan as ‘n waarskuwing vir die bewegings en partye in Suid-Afrika wat die Afrikanervolk, ons wat die laaste lig van Europese beskawing in hierdie Suidland is, in hierdie tyd en dae wil wysmaak dat ons ook moet konformeer. Dat multikulturalisme uiteindelik “kulturele verryking” beteken. Dat die “nuwe uitweg” die “regte uitweg” is.
Dit is nie. Want die gesigte van die twee immigrante wat langs die brandende Notre Dame staan en lag, sê vir my net een ding: Daar is geen waarde wat sulke mense tot my kultuur kan byvoeg nie.
Ek is nie so nie
Ek wil nie so wees nie
Daniel Lötter
Front Nasionaal SA
***
Ons hoort nie saam die wat alles wil verwoes en vernietig nie.
i do not see the need for a smirk on the lad faces
LikeLike
[…] Front Nasionaal – As van beskawing […]
LikeLike