*
Die steenkoolstoof en kombuistafel is soos ‘n broer en suster vir mekaar. Die een kon nie sonder die ander nie en ewe belangrik in meeste van ons lewens en geskiedenis. Daar was in die afgelope 100 jaar verskillende stowe wat in huise gestaan en daagliks gebruik is. Nie almal was beskore om elektrisiteit te bekom nie, dit was luuks en duur. Meeste burgers het hiermee gespog.

*
As kombuistafels en stoele kon praat, sou daar waarskynlik ‘n hele paar of reekse boeke verskyn het. Hier was altyd behoorlik van jongs af gekuier, nie net oor die beskikbare groentes, vrugte en vleis op die plaas nie, maar naaldwerk en alledaagse take was om hierdie tafel bespreek. Selfs tydens laerskool dae het ons pligte en verantwoordelikhede gekry om uit te voer.
Stiltetyd en Boekevat was rondom die kombuistafel gehou. Dit was ‘n belangrike gebeurtenis. Daar was ook radio en veral vervolgverhale of nuus geluister rondom die belangrikste tafel in die wonings waarop ons trots was. Skoolwerk en voorbereiding van toetse en eksamens is rondom hierdie tafel bemeester.
In die oggende was koffie en ontbyt genuttig asook om huishoudelike take en verantwoordelikhede uit te deel wanneer die skoolbywoning klaar is. Die steenkoolstoof het nie net as verwarming gedien nie, maar hiermee is voedsel voorberei en water vir bad en was doeleindes Veral in die wintersoggende was daar ‘n heerlike steenkoolstoof gebrand tot laataand vir ons badwater om te geniet. Daar was nie veel politiek gepraat of bespreek nie, maar wel dit wat meer as 100 jaar gelede gebeur het met ons voorgeslagte in die Boere republieke, die Anglo-Boere oorloë en ook hartseer konsentrasiekampe. As die radio aan was, moes kinders meeluister of hul huiswerke doen. Elkeen het ‘n stoel gehad aan hierdie tafel en stoof, die aandeelhouers en plot of plaaslewe.